Kreef ter waarde van R718 000 in Hawston gekonfiskeer
WES-KAAP. – Meer as 1 400 Weskus-krewe met ’n geraamde waarde van R718 000 is in die vroeë oggendure van 12 Oktober tydens ’n gesamentlike operasie in Hawston gekonfiskeer. Die operasie is deur die Overstrand-munisipaliteit se K9-eenheid, Hermanus-polisie en CapeNature uitgevoer nadat inligting ontvang is oor die beweerde onwettige oes van kreef buite die amptelike seisoen.
Edward Jantjies, waarnemende munisipale bestuurder van Overstrand, sê beamptes het op ’n wit enkelkajuitbakkie afgekom wat kreef vervoer het. Die bestuurder het glo in ’n systraat ingery en verskeie sakke afgelaai voordat hy gevlug het. ’n Soektog in die omgewing het gelei tot die ontdekking van 1 436 Weskus-kreefeenhede, bestaande uit 28 heel krewe, 1 153 kreefsterte en 255 kreefsterte van eierdraende wyfies. Twee wit Toyota Hilux-bakkies met CEM-nommerplate en die vissersboot Luna Scott is ook in die ondersoek geïdentifiseer as na bewering in die misdryf gebruik. ’n Ondersoekdossier is geopen en die items waarop beslag gelê is, is by die Hermanus-polisie in die SAP 13-register aangeteken. Die ondersoek duur voort.
Die publiek word versoek om nie onwettig geoesde seeprodukte te koop nie en vermoedelike stropery by die departement van bosbou, visserye en die omgewing, of die polisie, aan te meld.
The post Kreef ter waarde van R718 000 in Hawston gekonfiskeer appeared first on Nuusflits .
The full article is being collected. Available text is shown for now.